Wednesday 26 September 2012

Donderdag 27 September

Loop vanoggend nog bietjie in Innsbruck rond voor ons na Zurich vertrek per trein.
Ons vlug vanaf Zurich na Jhb is vanaand @ 22h45. En dan is ons Vrydag-oggend om 09h10 in Jhb.

Hier is 'n paar aanmerkings oor die boot-toer se reisgenote:
1. Sanet het 'n pet-hate aanboord gehad - ons het haar die hoof-meisie genoem. Sy was die leier van 'n ander toergroep (SAGA van Engeland) - en sy was 'n opregte pyn in g..t. Sanet het elke keer as die ou vrou om die hoek kom, 'n ander hoek gesoek om weg te hol. Dit was nou regtig een van die irreterendste mense denkbaar - wou alewig alles oorneem.
2. Ons tafel-genote was 'n Flaamse oom en tannie. Hulle was eintlik nogal oulik - net baie graag gepraat. Hy het die Engelse ou vrou Mrs Bucket genoem; en kon haar ook nie verdra nie.
Die toerleier het ons tafel fassinerend gevind, omdat hulle Flaams praat en ons "Engels, Duits, Hollands en 'n Afrika-taal" en steeds mekaar verstaan.
Die Flaamse se ons taal is "sappig". En hulle leer ons lekker Flaamse woorde.
Die oom is 'n regte ou bok, hy wou net die hele tyde met Corna gesels - en sit amper op haar skoot aan tafel. Sy vroutjie is so regte poffertjie tannie - en hy stap altyd so myl voor haar, dan stap ons maar saam met haar, want Sanet kry haar so jammer oor haar vet voetjies.
3. Die girl by die bar kon nie glo ek en Corna is van Namibia nie, want ons is dan wit met blou oe.
4. Daar was so Deense ou wat 'n grand pak klere na die gala-ete gedra het: met sokkies en plakkies!! Corna was histeries daaroor.
5. Dan was daar 'n groep dames vanaf Malta. Corna was oortuig hulle is die Mafia se vrouens wat kom vakansie hou het. Hulle het net heeltyd juwele gekoop.
Maar hulle was eintlik baie oulik. Regte grand dames.
Ek wou met hulle gesels, want ek het ook 'n maltees by die huis - dus dink ek ons sou mekaar kon verstaan.
6. Met die Mozart konsert aand sit so ou simpel ou Engelse man agter ons in die bus. Nou luister Corna sy gesprekke af. En die ou man se "I'm in heaven .....with you my darling" - en Corna dink hy se dit vir haar. Toe wil ek my op giggel!!

Ek wil nou eers slaap - skryf later nog strooi verder.

Woensdag 26 September

Ons verlaat die boot en ry heeldag trein: Vanaf Passau, Duitsland na Salzburg, Oostenryk na Innsbruck, Oostenryk (waar ons vanaand oorslaap.)
Dis 'n lang dag van treine en stasies - en arme ou Corsie is nog siek ook. Ons maak dit 'n vroee aand (ons het in elk geval vanoggend 05h00 opgestaan om betyds aan wal te gaan om die regte treine te haal).
Maak inb Innsbruck 'n draai by Swaroski - en Corna geniet haar gate uit.


Dinsdag 25 September

Ons gaan kyk na Melk Abbey. Dit oortref my wildste drome.
'n 81-jarige ou monnik doen 'n orrel-uitvoering vir ons in die katedraal - en dis onbeskryflik mooi.
Hierdie was definitief een van die hoogte punte van ons toer.






















Daarna ry ons deur die wyn en vrugte deel en gaan doen bietjie wine tasting (dis blerrie sleg, maar toe maar).
Vanaand is ons laaste aan aanboord en die kaptein se gala-ete. Ek en Elize kruip weg en weier om te gaan. Corna en Sanet gaan (en sluip weg kamers toe voor die dans).
More is ons boot-vaart verby en moet ons terugdraai Zurich se kant toe - ek kan nie glo die vakansie is verby nie (dit het net te vinnig gegaan. Maar dit was wonderlik!!!)

Maandag 24 September

Doen vanoggend Bratislawa se stadstoer - ons het die oulikste gids. Sy is skreeu-snaaks.
Ek hou van Bratislawa (het nie regtig baie van Budapest en Hongarye gehou nie.) Maar Oostenryk en Switzerland bly die beste!!
Ons drink koffie in  'n grand restaurant:















Vanaand is die Mozart konsert in Wenen. Dis een van die wonderlikste ervarings ooit!!!








Sondag 23 September

Ons was 'n paar dae "off-line" op die boot, maar hier gaan ons weer:
Vandag is 'n vol en bedrywige program - oggend uitstappie is na Kasteel Godollo buite Budapest. Dit was die koninklike familie se somer-tuiste. Is nogal interessant.



Vanmiddag doen ons Estergomm katedraal en streek. Baie mooi, maar 'n boring (eintlik simpel gids).






Vanaand hou die crew vir ons 'n pirate-ete. Oulik en snaaks.

Die kos op die boot is fantasties. Ons eet BAIE en lekker.
Ontbyt is 'n buffet met vrugte, koue vleise en kase en konfyte, baie brode, baie kits pappe en ook warm pap, jogurts, sappe, en eiers en spek en wors.
Middag-ete: slaai buffet, soppe, 3 keuse hoof gereg, nagereg, koffie/tee en vars vrugte.
Aand-ete: voorgereg, soppe, 3 keuse hoof gereg, nagereg, vars vrugte, kaas en beskuitjies en koffie en tee (met rooi en wit wyn van dien area).